Ek het swakhede, net soos jy.
En in jou swakhede ontdek ek my eie sterkpunte. Soos wat ek nodig het dat jy by my sal staan in my uur van nood, so sit ek my arm om jou skouers wanneer jy moet swem deur die dieptes van jou gemoed. Miskien kan ek net sterk wees as ek weet dat jy my nodig het, dit gee my eie lewe betekenis. Miskien kan ek net volkome ekke wees as ek weet dat ek jou kan aanvul tot meer as die som van ons, dat ek ‘n lifejacket is in ‘n rowwe see. Maar vir my om ‘n hero te wees vir jou vereis ook dat jy jouself vir my moet oopmaak om te ontdek, dat jy die masker oor jou gesig moet laat sak. Dat ek jou moet kan sien wanneer jy werklik iemand nodig het en dat ek in daardie oomblik die een moet wees na wie jy draai om mee te gesels.
Om sin te maak uit wie ek is het ek nodig om jou hero te wees as jy down and out is. Ek wil die een wees wat jou optel en vertel dat alles okay gaan wees, dat ek dit okay sal maak vir jou, dat jy vanaand teen my skouer kan huil omdat jy iemand nodig het en weet dat ek dit kan beter maak. En dat ek nie minder van jou gaan dink nie. Ek het so nodig om jou te sien as jy opstaan en nie perfek is nie, ek het so nodig om te weet dat ek vir jou - soos jy vir my - maak dat ek ‘n beter mens wil wees. Ek het nodig om jou hartseer te sien, want in jou pyn en trane word ek jou hero.
Liefde is om vir iemand te gee sonder om terug te verwag. Liefde is ek wat jou red, dis die silwer rand wat ek om jou donker wolk sit, dis die hoop en geloof in iets beters saam as op ons eie. Ons is maar nietig en net ‘n spikkel stof wat in ‘n oomblik vergaan, maar hierdie oomblik is myne en joune. Ek is daar vir jou, in hierdie oomblik kan ek jou myself beloof.
Dis doodeenvoudig die moeite werd, want ek glo in die goedheid van mense.
Ek glo in my.