Van al die baie dinge wat ek al ooit hier geskryf het, gedink het en gevoel het, moet die volgende stukkie vir my uitstaan as besonders akkuraat. Nie net oor die algemeen nie, nie net omdat ek daarmee saamstem nie, maar ook omdat dit iets is wat ek dink meer van ons die moeite kan doen om te onthou.
Dis geskryf deur Gideon van Zyl en jy kan die hele oorspronklike post daar by hom gaan lees….
Mens leer lesse in die lewe. As ons oop bly vir die lewenslesse, is een van die mees waardevolle lesse wat daar is vir ons om te leer, dat daar bitter min swart en wit is en meestal net grys. Skakerings van grys. Dit het by die punt in my lewe gebring waar ek nie meer vriende of vyande het nie. Nie uit my oogpunt nie in elk geval. Ek is soms seer oor wat iemand anders gedoen het, maar dit maak hulle nie ’n vyand nie, net iemand met wie ek moet rekonsilieer. Dit is ’n plek waar ek met die kompleksiteit van ander mense se persoonlikhede kan saamlewe en nog steeds almal wat ek leer ken belangrik kan vind as indiwidue – ongeag hul openbare beeld, of wat hulle gedoen het of wat hulle nie gedoen het nie. Mense met pyn, vreugde, passie, temperament, lus en lis. Sommer baie ander emosies en ervaringe wat geinternaliseer word en tot sigbare aksies, maar ook tot onsigbare aksies lei. Die beeld wat ek, en jy gevorm het van al drie die mense wat ek hier genoem het is gevorm deur wat ander mense gedink het. Miskien ook deur wat hulle van hulself gedink het. En soms deur klein blikkies of grotter blikke in hul lewens in. Soms deur aksies wat hulle gepleeg het in die openbare oog of teenoor ons. Wat agter dit alles sit is anders. Gewoonlik heeltemal anders.
Vir die wat dalk hier lees, en iets oor my wil weet – my vriendskap met jou, maak my nie jou vyande se vyand nie. My vriendskap met jou vyand, maak my nie jou vyand nie. Dit maak my miskien net iemand wat ’n beter mens probeer word as wat hy jare gelede was.